Gedigte
UIT: RANGEER (2013)
Kaartjies asseblief
Pa, jy't
nooit krom en kierie-oud
geword nie, met jou pyp
ons ontstig, sit en tabakmaak,
oor die jare jou ryp
wyshede, soos beelde uit hout
vir my gekerf en nagelaat,
nóú in stukkies helder onthou
sien ek jou weer,
dié keer,
buite hoor- of reikafstand,
jou bruin spoorwegoorpak,
die vyf van ons,
met die koffers opgewonde gepak,
Pa,
daar loop nie meer soveel treine nie,
en die meeste stasies bouval,
sonder naambord, die spore word opgetel,
maar ek weier om op te hou onthou.
Kóm wees my lampman,
Kóm wees my roepman,
Kóm, wys my weer die pad uit hierdie plek.
Smeul
Arm is soms net ’n gebrek aan oorvloed
niks minder, niks meer,
met elke spoorweghuis
kom die stoof, ’n Welcome Dover
swart, op vier pote, kom katstaan hy met
rug geboggel
die kaggel vol,
wyd was hy, met plek vir vier potte,
’n ketel vir koffie- en waswater,
’n oond vir bakbrood,
gemaak vir gesinne,
winters kon ons maklik vier-vyf
voor hom inskuif
op die lang bank,
dit was voor televisie
ek kon fabels in die vlamme lees
sien hoe die kole rooi gloei
om later tot as dood te bloei
soms het ek só gebrand om
weg en uit te kom,
baie kere was daar net brood
en moerkoffie, gebakte kerrie-uie, of brood
met uitgebraaide skaapvet
maar altyd-altyd was daar iets, al was dit net-net,
eendag het ma die grammofoon verkoop
met die hele hoop
plate waarna ek so graag geluister het,
dit het my hart gebreek,
fyn, soos antrasiet,
ek het maande lank daaroor getreur
eers ’n leeftyd later het ek dit verstaan:
hulle móés net oorleef,
soos daardie vasberade vuur, in die kaggel
elke uitputtende dag,
aanhou brand,
aanhou smeul,
vir ons.
Huldeblyk by die afsterwe van Nelson Mandela
http://www.netwerk24.com/vermaak/2013-12-07-gedig-vir-nelson-mandela?redirect_from=dieburger